![]()
|
Op 14 Augustus 1975 was dit honderd jaar sedert die Genootskap van
Regte Afrikaners (G.R.A.) in die Paarl gestig is. Die Genootskap se
doelstelling was om Afrikaans, wat toe reeds die spreektaal van
duisende mense was, tot skryftaal te verhef, as leestaal aanvaar te
kry en as landstaal erken te kry. Langs die weg sou dit dan onder
meer skooltaal, Bybeltaal en kanseltaal word. Hierdie werksaamheid
staan bekend as die Afrikaanse Taalbeweging. Die G.R.A. was die
organisasie wat aan die eerste fase van die Taalbeweging vorm en
inhoud gegee het.
Met die oog op die eeufees van die Taalbeweging wou die Afrikaanse
Taalmonumentkomitee 'n waardering gedenkteken vir die Afrikaanse taal
op Paarlberg oprig. Die komitee wou ook die wegbereiders,
stigterslede, andere lede en medewerkers van die G.R.A. op gepaste
wyse vereer en die ontplooiing van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging
uitbeeld. Dit sou geskied deur middel van 'n museum, gevestig in die
huis waar die G.R.A. gestig is - die groot woonhuis van die gesiene
Paarlse wynboer en sakeman Gideon Malherbe, wat 'n stigterslid van
die G.R.A. was. Die huis het gelukkig behoue gebly.
Die Taalmonumentkomitee het in 1971 die huis aangekoop en dit laat
restoureer onder toesig van die Kaapstadse argitek Gabriel Fagan.
Die bouwerk is deur die werkspan van Historiese Huise Beperk uitgevoer.
Op 14 Augustus 1975 is die museum feestelik geopen.
druk hier asseblief om naar Tuis Blad te gaan:
|