ONTSTAAN VAN DIE MUSEUM

Op 14 Augustus 1975 was dit honderd jaar sedert die Genootskap van Regte Afrikaners (G.R.A.) in die Paarl gestig is. Die Genootskap se doelstelling was om Afrikaans, wat toe reeds die spreektaal van duisende mense was, tot skryftaal te verhef, as leestaal aanvaar te kry en as landstaal erken te kry. Langs die weg sou dit dan onder meer skooltaal, Bybeltaal en kanseltaal word. Hierdie werksaamheid staan bekend as die Afrikaanse Taalbeweging. Die G.R.A. was die organisasie wat aan die eerste fase van die Taalbeweging vorm en inhoud gegee het.

Met die oog op die eeufees van die Taalbeweging wou die Afrikaanse Taalmonumentkomitee 'n waardering gedenkteken vir die Afrikaanse taal op Paarlberg oprig. Die komitee wou ook die wegbereiders, stigterslede, andere lede en medewerkers van die G.R.A. op gepaste wyse vereer en die ontplooiing van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging uitbeeld. Dit sou geskied deur middel van 'n museum, gevestig in die huis waar die G.R.A. gestig is - die groot woonhuis van die gesiene Paarlse wynboer en sakeman Gideon Malherbe, wat 'n stigterslid van die G.R.A. was. Die huis het gelukkig behoue gebly.

Die Taalmonumentkomitee het in 1971 die huis aangekoop en dit laat restoureer onder toesig van die Kaapstadse argitek Gabriel Fagan. Die bouwerk is deur die werkspan van Historiese Huise Beperk uitgevoer. Op 14 Augustus 1975 is die museum feestelik geopen.


Hierdie bladsy is al keer besoek. Dankie !

druk hier asseblief om naar Tuis Blad te gaan: